Lang Herman se hond

Meeste van my vadertjie se stories, wat hy my vertel het, gaan oor sy kinderdae. Hoe hy die vlaktes ingevaar het en gaan jag het vir ietsie ekstra vir die pot. Die lewe was baie swaar en elke bietjie ekstra vleis in die pot het gehelp teen die eentonigheid van vetkoek en mieliepap. So niemand het die seuns gekeer as hulle veld toe wou gaan nie. So het Lang Herman die beste deel van sy lewe in die veld deurgebring saam met sy getroue hond. Die meeste honde wat jy in Namakwaland sal kry stam veraf van die Border kollie, want al die boere daar het maar meestal met skaap, bok en ‘n bietjie koring geboer as die reënseisoen dit toegelaat het.

My pa se stories het die hond legendaries in my seuns verbeelding gemaak. Al die klein verhaaltjies van hoe die hond self ‘n kalahari konyn kon vang. Die hond was danig vlugvoetig en kon sy draaie skerp gooi en die gang van sy prooi kon hy instinktief vooruitsien kom, want daar was geen ander manier hoe hy die vlugvoretige Kalahari konyn kon vang nie.

Ek het nooit ‘n foto van die hond gesien nie en in my verbeelding het ek maar ‘n prentjie van die hond geskilder met die woorde waarmee my vadertjie die hond beskryf het. Soos baie honde in Namaqualand het Lang Herman se hond nie ‘n naam gehad nie. As hy die hond geroep het, het hy net op ‘n sekere manier gefluit en ta sou langs hom kom inval.

Die dae wat my pa skool toe moes gaan, het die hond hom getrou tot op die skoolwerf gevolg en dan geduldig vir hom in die skaduwee lê en wag om hom na skool uitbundig te groet en dan weer werf toe agter hom aan te tou.

Díe hond het een talent gehad wat hom bo ander Namaqualand honde laat uitstaan het. Hy kon bene wat jy eenkant toe gooi uit die lug uit vang sodat dit lyk of die been sommerso in die lug verdwyn. Dan het hy behaaglik eenkant loop lê en luuidrugtig aan die been gekou om net weer die volgende been uit die lug voor die ander werf honde se neuse te loop wegraap. Soos dit nou maar gaan met ‘n man as sy hond uitstaan bo ander, sal daar mos nou maar altyd een wees wat met afguns na die hele ding sal kyk.

So was dit dan ook die geval met Lang Herman en sy hond. Een paar afgunstige ogens het die hond gedurig gevolg as daar om die kampvuur ontspan is in die aande. Nou die aand kon die bogger sy afguns nie langer beteuel nie. Want soos die manne af en toe ‘n stuk been eenkant toe gooi en met plesier kyk hoe die hond dit vang, so het satan dan met listigheid oor sy skouer kom sit fluister en die bogger het met ‘n gemene glimlag vorentoe gebuk om ‘n kooltjie vir sy pyp uit die vuur te krap.

Toe die pyp dan nou goed trek toe gooi hy die kooltjie in die hond se rigting wat dit dan toe ook netjies uit die lug uit vang in die waan dat dit ‘n been was. Die hond het die kool vuur met ‘n harde tjank laat los en is daar weg met ‘n vaart. Die ouer broers om die vuur was woedend en die vuiste het daardie aand gepraat. Tog het van die listige dôner se paklslae niks gekom nie. Want Lang Herman se hond het daarna nooit weer bene uit die lug gevang wat vir hom gegooi was nie. Hy het gewag tot dit op die grond geval het en dan versigtig benader waar dit dan soms voor sy neus weg geraap is deur een van die ander werf honde.

Wat die man die aand gedoen het was nie reg nie en die drag slae wat hy by Lang Herman se oudste broer Jaap gekry het hy dubbeld en dwars en dwars verdien. Maar met een afgunste gebaar het hy die een plesiertjie wat die manne om die vuur gehad het van hulle ontneem.

Ons almal was maar in een stadium van ons lewe jaloers. Dit is nou maar eenmaal so dat dit niemand verbygaan nie. Maar dit is hoe ons die jaloesie hanteer wat van ons slegte of goeie mense maak. My vadertjie het nie vir my vertel hoe die hond aan sy einde gekom het nie. Dit was vir hom seker maar te pynlik. Waar hy die hond met trane oor sy wange gaan begrawe het sal ook net hy weet. Maar die hond was maar altyd in sy gedagtes tot op sy oudag. Want soms het ek hom betrap dat hy met groot dromerigte ogens uit die garage deur sit en tuur het. Dan het ek sommer dadelik geweet dat hy en sy hond weer oor die sandvlaktes draf en dat al wat ‘n haas is terug na hulle gate toe geskarrel het.

Ek mis jou leë plekkie in die garage nog elke dag, pa. En ek mis jou stories en jou raad. Die foto van jou wat neef Frederik laasweek vir my uit die verre Australië gestuur het, het vir my in my middeljare kom wys hoe mooi jou hond werklik was. Ek kon die liefde vir jou hond op jou seungesiggie sien. Ek kon net lekker saam glimlag dat ek net soveel tanne soos jy kon wys. En ek verstaan maar te goed hoekom jou kinderdae altyd jou beste dae sal wees. Rus sag Lang Herman.

10 thoughts on “Lang Herman se hond

  1. Dis mooi en dis baie treurig. Een man se jaloesie het nie net ‘n hond se vertroue geskend nie, maar ook ‘n tragiese inslag gehad op dit wat ‘n baie mooi herinnering vir Lang Herman (en vir jou) moes ingehou het.

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s