Die swerwer van Namakwaland

Josafat was ‘n swerwer en jy kon hom meestal op die sandpad tussen Alexanderbaai en Port Nolloth kry. Maar soms ook op die grondpad oor die Richtersveld en op die nationale pad tussen Steinkopf en Springbok. Waar hy gebly het en watter stroois hy sy huis genoem het sal niemand ooit weet nie. Baie mense sal vorendag kom met ‘n storie dat hy op Steinkopf in ‘n matieshut woon en ander sal vir jou vertel dat hy in die blikkies dorp agter Springbok bly en nog een sal vir jou vertel dat hy op Ratelgat ‘n vrou met kenners by dosyne het. Maar jy sou die indruk kry dat niemand juis geweet het waarvan hulle praat nie en dat dit sommer net sensasie soekery was.

Josafat was ‘n goeie onderwerp in bespreking as jy gramstorig was en die woede wou aanblaas en Josafat jou weer ‘n streep getrek het. Ja dit kan almal jou vertel. Josafat was ‘n swerwer oor een rede. Hy had lang vingers gehad en kon jou maklik bedrieg. So sal jy dan van die geskokte vreemdeling uit verre stede hoor dat hy langs die pad gestop het waar hy die lang gestalte van Josafat sien staan het. Van nader af het die twyfel wat mens maar altyd vir ‘n vreemdeling gehad het dan effens skiet gegee as jy in sy oop eerlike lig groen ogens gekyk het en na sy nimlke glimlag.

Josafat was die nasaat van die Cornwall myners wat in die Grootrivier walle gedelf het lank voor enige iemand in die distrik kom bly het. Hierdie Cornwall delwers het toe onder die Nama vrouens ingetrou en op die einde is bitter min van hulle terug hul vaderland met die prospek van sneeu in die winter en reën die res van die jaar. Niemand sou die vlaktes van groot Namakwaland wou verruil het vir die vog en sneeu van Engeland nie. Hierdie nuwe nasie het hulself die Basters genoem en was (en is nog steeds) baie trots op hulle ontstaan. Baie van hulle het in die omtrek gebly maar meeste van hulle het op getrek in die dynserige noorde in agter ‘n vreemde drang aan dat agter die verre vlaktes daar vir hulle ‘n beloofde land van melk en heuning gewag het. Die beloofde land waar hulle vandag nog bly. Die Rehoboth Baster Gemeente. Land van melk en heuning.

As jy dan by Josafat stilhou dan boei sy oop eerlikie gesig jou om sy hand van vriendskap te neem. En dan het Josafat jou met ‘n diep ryk stem verras met die suiwerste Afrikaans soos wat net sy mense dit kan praat. Hierdie stem het jou gewoonlik genoop om uit jou motor te klim om hierdie formindabele man van nader te leer ken. Die kanse was altyd groot dat hierdie man jou dan net daar langs die pad genooi het om saam met hom te sit en dan het hy vir jou spesiaal ‘n keteltjie vol stokkies tee gebrou wat jou ogens laat traan het so soet was dit. Dan sou Josafat jou met sy welluidende stem stories vertel wat jou na jou asem laat snak het van pure verwondering.

Later met ‘n ferm hand druk is jy fort in jou motor met die lekker warm gevoel van stokkiestee in jou maag ‘n die kameraderie wat Josafat in jou laat posvat het. ‘n Gevoel wat aan jou geklou het tot en met Alexanderbaai waar jy dan moes petrol ingooi voor die skof na Sendelingsdrif toe of na Oranjemund oorkant die rivier. Dan het jy jou beursie uit jou sak gehaal net om te sien dat daar nie ‘n sent van jou geld in jou beursie was nie. Nie eers jou horlosie aan jou arm nie. Want met sy laaste ferm handruk het hy dit geneem as betaling vir die wonderlike stories en die stokkiestee. Soos almal weet, my vriend, is niks in die lewe verniet nie. Nie eers oomblikke van obsolute bekoring op die sandvlaktes van Namaqualand nie.

So was dit dan dat Josafat baie vyande gehad het in Namaqualand self. Want om die toeriste te verneuk was maar een van sy skelmstreke. Die plaaslike bevolkingtjie het net so lekker deurgeloop. En as jy klaar deurgeloop het, dan kon jy hom nerens kry om die daglig uit hom uit te voeter nie, want dan het Josafat soos ‘n duikertjie in die gnaroebossies verdwyn en jy het maar met ‘n wrok in jou hart geloop wat stadigaan selfverwyt en dan later leedvermaak geword het. Dan teen die tyd wat jy weer vir Josafat ontmoet, het jy alweer vergeet van die vorige keer en het jy jouself maar weer verlustig aan sy verhale terwyl jy jou horlosie en beursie styf in jou hande vashou, want watter man sal nou sy kop twee keer teen een klip loop stamp soos ‘n donkie?

So was ou Blaasbalk ook maar een van Josafat se slagoffers, maar Blaasbalk was ‘n rapase man wat nie maklik kon vergewe nie. So het Josafat dan eenmaal Blaasbalk se kettingkie wat hy soos ‘n ducktail om sy nek gedra het afgesteel en hy kon net wonner wat van die kettingtjie geraak het. Todat een hom gevra het waneer laas hy vir Josafat gesien het… So drie maande daarna kom Blaasbalk oop en toe teen ‘n bultjie afgery op sy baaisiekil en daar sien hy sowaar vir die bekende lang gestalte van Josatvat voor hom in die pad aanloop met sy rug na Blaasbalk toe.

Dit is toe dat Blaasbalk sy geliefde kettingtjie onthou en besluit om die dôner sommer net daar onnerstebo te ry. So het hy dan sy ou Western Flyer se voorwiel reg tussen Josafat se agter bene in gemik en toe met ‘n buk en tromfantlike kreet reg tussen Josafat se bene ingery. Josafat het met ‘n boog oor sy skouer gevlieg. Blaasbalk is lag-lag daar voort en kon sy geluk nie glo dat hy vir Josafat so lekker terug gekry het nie. Tot die aand in die Royal Pub op Port Nolloth waar hy toe agterkom dat Josafat sy pen uit sy bosak gesteel het soos hy oor sy skouer getrek het …

Dis nie waar die vete tussen Josafat en Blaasbalk opgehou het nie. Want so nege maande daarna, toe kry my vadertjie vir Josafat langs die pad waar hy droewig by sy nuwe baaisiekil sit huil. Die hele baaisiekil was uitmekaar gehaal en Josafat het geen tool op sy naam gehad om dit aanmekaar te sit nie. So kom die storie dan toe uit dat Blaasbalk hom langs pad gekry het waar hy die baaisiekil deur die diksand aant stoot was. So het Blaasbalk met sy Goggomobil* aangebied om Josafat se fiets in die Goggomobil se kattebak aan te ry, maar eers moes hulle twee die fiets uitmekaarhaal om dit in die piepklein ou kattebak te laat pas. Toe die fiets mooi uitmekaar gehaal is toe beginne lag Blaasbalk vir Josafat uit en klim in sy kar in en ry daar weg. In sy truspieël sien hy toe hoe Josafat op sy twee kniegens neersak en hom smeek om tog stil tehou. Maar Blaasbalk het gery met ‘n lied in sy hart.

Dit was Godsgenade dat my vadertjie drie ure later op die storie afkom. Met sy sagte hart het hy aangebied om Josafat se fiets in sy Citroen se diekie in te laai en so het hy hom toe ‘n lift gegee tot op ‘n skaap plaas 30 myl voor Port Nolloth. By die uitdraai pad het my vadertjie en Josaft die fiets netjies inmekaar gesit en daar is die twee in verskillende rigtings. Twee weke later maak my vadertjie weer sy Citroen se diekie oop om ‘n sak mieliemeel in te laai en agter in die diekie lê toe mooitjies ‘n domkrag wat hy nie ken nie. ‘n Jack was ‘n ding wat die mense van Namaqualand nie kon bekostig nie. Hulle moes mekaar maar so langs die pad help om die kar op ‘n blok te kry as jy papwiel gehad het. Daar die dag besef my vadertjie toe dat Josasafat vir die eerste maal in sy lewe gegee het in plaas dat hy geneem het.

Dis toe hy eendag die storie in die myn menasie vertel wat Blaasbalk skielik kiertsregop sit om die storie aandagtig sit en beluister. Hy vra toe vir my vadertjie om vir hom die jack te wys. En sowaar. Daar vind hy toe sy jack wat die dag wegeraak het die dag toe hy vir Josat die spenner uitgehaal het om sy fiets mee uitmekaar te haal…

Josafat beweeg vandag nog daar op die vlaktes. Teen hierdie tyd het hy lankal die tydelike met die ewigheid verwissel. Maar in die gees spook hy nog altyd daar langs die pad met die niksvermoedende reisiger. En dit is een ding waarvan ek myself kan getuig. Een aand oppad na Oranjemund toe loop staan my ou brood kombi so 36 kilometer voor Port Nolloth. Daar het ek vir twee ure sit en sukkel voor ek agtergekom het dit was die punte wat gekrater het in die distributor. So het ek die punte uitgehaal en netjies met ‘n stuk sandpapier uit my toolbox sit en skuur terwyl die meisiekind wat saam gery het in my ore sit neul dat die hekke by die border nou al toe sal wees. Toe moes ek die distributor met ‘n nommer 12 spennertjie losdraai om weer die timing in te stel. Na veel gesukkel het die ou kombi toe weer soos ‘n wafferse Mercedes gestart en toe ek die distributor weer wil vasdraai, is my nommer 12 spennertjie soek.

Daar het ek in die sand van Richersveld met my vingers rond gesoek en in die maanlig kon ek niks kry nie. Later het ek die boudtjie met ‘n waterpomp tang vasgewoel en toe vir oulaas die bossie ingeloop om bietjie water af te slaan. So op die oop vlaktes met die gnaroebossies wat my enkels kielie en die seebries wat in my hare woel. Dis toe ek my belangrikste tool weer mooi afskud en bêre dat ‘n skielike koudheid oor my gekom het en dat my arms in gans vel uitgeslaan het en my nekhare soos ‘n lokasie hond sin loop staan het voor hy baklei. Met ‘n gevoel van onheil is ek daar weg en oppad sit en val die storie van Josafat my toe by. Dis toe ek hardop besluit dat dis weer daai dônerse Josafat was wat my spênner kom steel het daar langs die pad. Want in die gees was hy mos meer vlugvoetig as in die vlees. Die meisiekind het opgebeur en deur die slaap gevra: “Is ons al by die huis?”

Oom Gert van Rehoboth

Gert het sy hele leeftyd in Rehoboth gebly. Hy was nie soos meeste van die Rehoboth Basters ‘n pendelaar nie. Die Basters is trotse mense en noem hulle self Basters met trots. Hulle is die nasate van die gemeenskap tussen die Cornwall mynwerkers, wat langs die Groot Rivier gedelwe het en die Khoikhosan wat in hierdie omtrek woonagtig was.

Gert het sy hele leeftyd in Rehoboth gebly. Hy was nie soos meeste van die Rehoboth Basters ‘n pendelaar nie. Die Basters is trotse mense en noem hulle self Basters met trots. Hulle is die nasate van die gemeenskap tussen die Cornwall mynwerkers, wat langs die Groot Rivier gedelwe het en die Khoikhosan wat in hierdie omtrek woonagtig was.

So het hulle die gelaatstrekke van byde die Europeër en die Nama van ouds. Basters is vriendelike mense, maar boeta, moenie aan sy gat krap as dit nie jeuk nie. Dan is daar moelikheid. Hulle is lief vir Rehoboth omdat dit die grond was wat hulle van die regering van die dag gekry het en vir elke morg uit hul eie sak betaal het. Hier slaap hulle elke aand en ry vroeg oggend om 80 km verder in Windhoek te gaan werk. Deesdae is daar baie Basters wat in Windhoek bly, maar hulle is lief daarvoor om in die naweke terug te gaan na hulle wortels toe en daar by familie en vriend te gaan kuier.

Oom Gert was een van die Basters wat op Rehoboth gewoon en gewerk het. Hy was ‘n vorsgeboude man en kon bou en pleister soos geen ander Baster hom kon nadoen nie. Nou soos almal weet, is die mense van Rehoboth bekend vir hulle goeie en vinnige bouwerk so as een bo die ander duisende kon uitstaan dan was hy inderdaad ‘n voorslag van ‘n bouer.

Oom Gert is met ‘n baksteen in een hand en ‘n troffel in die ander hand gebore en het sy tandvleiste deur gebyt om sy vadertjie se waterpas. Bou kom hy bou. As hy so op die steilers staan lyk dit of daar ‘n muur uit die grond onder sy voete te voorskyn kom, so vinnig het hy dit gedoen. As hy pleister dan kon jy nie ‘n kleinste defek in sy oppervalk kry nie.

So was Oom Gert. Soos wat hy gebou het, het hy van almal onder sy toesig verwag om te bou. Maar in sy hele lewe was daar nooit een Baster wat by hom kon kers vashou nie. Hy was ‘n streng man en teëpraat he thy nie geduld nie. So het hy dan menigmaal ‘n jongeling in die stof laat neerslaan met ‘n harde klap vannie oophand as die nie wou luister nie. Hy het mos die een Donderdag een van die messelaars reg van die steilers afgeklap lat díe een verdieping ondertoe op sy gat beland.

Nou daar was een ding wat oom Gert nie gelike het nie. Dit was om sy geliefde Rehoboth te verlaat vir die maandelikse inkopies in Windhoek, want soos almal weet is Windhoek se groot winkels die goedkoopste. Maar die baie karre op die pad soontoe en die swerm ongemanierde drywers in Windhoek het vir Oom Gert se senuwees op gemaak. So was sy senuwees dan al goed uitgerafel so teen 12 uur op ‘n Saterdag oggend en dan wou hy opsluit Rehoboth toe.

Of vroulief nou klaar gekoop het of nie. Nou die een oggend was dit weer soos elke Paydag op ‘n Saterdag in Windhoek. Die hele dorp was toe onner mense en almal wou iets kom koop. So het hy díe dag gesukkel om vroumenre van een winkel na die ander te ry en dan nog die gesukkel om parkeerplek ook te kry. So teen 12 uur toe stuur hy sy jongste om sy ma te loop seg hy ry nou. Buig of bars. Die tante het met een laaste verlangende kyk na die mooi kant in die materiaal winkel die plek verlaat, want sy ken mos nou al vir ou Gert. Teen die tysd staan en trap hy van een voet af na die anner een die soos ‘n perd op warm sand.

Nou ja, oppad uit Windhoek uit is daar die duikweg op Rehobether Weg. Hier maak die pad bottelnek onder die treinspoor deur en dan is dit ook net mooi hier waar Oom Gert dan toe die bakkie laat stol en toe die calburettor flood met die oorhaastigheid om weer weg te trek. Hy klim daar uit en alte bewus van al die frustreerde ogens agter hom op sy rug staan en wonner Oom Gert nou verbouereerd: “Wat nou?” Dis toe dat Oom Gert se sunuwees ingee en hy by die bakkie inbuk en sy leer sweep daar uit trek wat hy vir die skollies daar gesit het. Hy trek toe los en beginne moer die bakkie al teen die kant af en bulder: “Hier gaat djy nie vir djou steeks hou nie djou hoerkênd” Nadat hy die bakkie een verdekslelse drag slae gegee het klim hy agter die stang in en start die bakkie. Die bakkie start soos ‘n droom en daar gaan Oom Gert met sy vrou en oudste dogter voor in die Toyota en sy vyf seuns en 3 dogters agter in.

Oom Gert het net een swakte in die lewe gehad, soos almal van ons maar ons eie swaktes het wat ons mens maak. Oom Gert was vreeslik ydel. Hy kon maar alte lekker spog. So het die ou oom dan elke end van die maand by Kentucky gaan stop en dan het hy sy vrou gestuur om die 12 piece family feast te gaan haal, al kon hy dit nie eintlik bekostig nie. So het hulle dan met die noenmaal in Rehoboth die Kentucky so sit en verdeel dat elkeen darem ‘n happie daarvan kan kry saam met ma se berg rys en mooi sagte aartappels en groenboontjies. Dan het Oom Gert skaam-skaam sy kop laat sak en die die Helmelse Vader bedank vir die gereg wat hy aan hulle voorsien het en sit en wonner het of Oubaas hom sy oordadigheid met die Kentucky sal vergewe.

As hulle dan klaar geëet het, het sy jongste die ritueel voltooi deur vir hom die leë Kentucky boks op die stoep te bring waar hy met ‘n blikbeker vol koffie en sy ou pyp met Black&White tabak ontspan. So het die ou dan effens selfbewus met die boks opgestaan en dan die boks in stukke geskeur en die stukke op strategiese plekke in sy erfie loop rondgooi het waar dit dan ‘n advertensie vir Oom Gert was. Díe man was so well away dat sy mense Kentucky kan eet…

Oom Gert lewe nie meer nie. Sy begrafnis was een van die grootstes wat ooit in Rehoboth gehou is. Familie en vriende het van heinde en verre daar aangekom. Daar was self sprake daarvan dat daar nie net een geveg was nie maar sommer ‘n hele paar waarvan een ‘n moerse bakleiery afgegee het.

Rus sag Oom Gert. Laat die vereelte ou hande maar op jou borskas rus en laat die wat jou klappe weg het, trots wees daarop. Jy was een van die laaste ou grotes. Jy kon vir jou groot gesin Kentucky koop al was jy dan so arm. Die Oubaas sal jou vergewe, want Hy weet mos hoe lekker Kentucky is.

Jan Vetkop en die Chevrolet Impala

Gister staan ek in die tou by Checkers en wag dat die till operateur die ou tannie voor my klaar help. Die ou tante was maar baie bewerig en het kort-kort met askies-dat-ek-lewe ogies omgekyk en dan verskonend en bang vir my geglimlag. Elke keer het ek haar maar my gerustellende glimlag gegee om haar te verseker dat ek baie tyd had en nie haastig was nie. Terwyl die tante dan met ‘n bewerige ou vingertjie in haar verslete beursie grou vir kleingeld, val my oog op die lekkers in die rakke wat jy by elke till sal kry.

Die rakke wat vir jou vra of jy onthou het om skeermeslemme of bulbs vir jou huis te koop. Of Lunchbars… Nou kyk, ek het vir jarre der jarre geen Lunchbars geëet nie en skielik was ek lus om my tanne weer in een in te slaan en net daar laai ek dit toe in die mandjie. Net die soveelste slagoffer van die last minute “Het jy onthou rak” langs die till.

Die tantetjie draai vir oulaas om en gee my ‘n laaste glimlaggie met die laaste bietjie vrees wat uit haar dowwe ou ogies sypel en dan stap sy weg op die kenmerkende skuifelstappie van die oues van dae. Ek pak my goedtjies maar so op die till en betaal en stap uit na my bakkie toe. Agter die stuurwiel onthou ek die Lunchbar en net daar skeur ek die omhulsel af en vat my eerste hap sedert ek maar ‘n klein mannetjie was.

Die smaak kom vat my net daar uit die werklikheid uit en loop plak my voor Oom Tiennie Slabbert se plaaswinkeltjie op Leipoldtville neer. Die verbeeldings vlug was so ryk dat ek die vlei van oom Tienie se stoep af kan sien. Soos my oë die vlei volg so val dit dan ook op die BP Garage reg oorkant Oom Tienie se winkeltjie. Met die geur van Superblue Surf, boer twak en met die hemelse smaak van ‘n Lunchbar sit ek rustig en kyk na die garage met die poet-poet klank van ‘n Lister wat iewers staan en krag opwek.

Dan skrik ek tot die hede toe en sien hoe die jong Ovambo met ‘n vriendelike glimlag en die geduld van Afrika vir my staan en wag om hom sy dollar te gee vir die tydjie wat hy my Fordtjie opgepas het. Soos ek huistoe ry, so bly dink ek aan die BP Garage op Leipoldtville en aan Oom Jan Vetkop wat die Garage se eienaar was. En dan dink ek aan die storie wat my vadertjie vir my vertel het en ek lag kliphard waar ek by die robot sit wag dat die lig groen moet slaan.

Oom Jan Vetkop was ‘n man wat lief was vir sy werk. ‘n Man wat lief was vir karre. As ‘n kar vol krankemente beginne raak het, dan het jy hom vir oom Jan Vetkop gebring en dan het het die oom die kar se engine met groot hande vertroetel soos wat net ‘n minnaar sy meisie sal streel. En elke keer sou oom Jan Vetkop oorleun en met die ore van ‘n Casanova na die motor se stem luister en sy sou met ‘n hees stem vir hom in sy oor fluister presies wat fout was met haar.

Nou oom Jan Vetkop se seun, Dirk Vetkop (wat toe ook die jaar klaar met skool gemaak het), het vir sy pa kom appie by sy garage. Soos dit nou maar met ‘n jongman is wat in die familiêre omgewing van sy pa se eie garage ‘n appie is, so het dit dan nou gebeur dat die beterweterige jong Dirk vinnig van leerling tot leermeester gehop het. Tot die troetel irritasie van oom Jan. So was dit dan as oom Jan seg ‘n kar is blou dan sal die klein dôner kom met n lang redenasie van hoekom die kar nie blou is nie maar cobalt. Menige keer het oom Dirk die mannetjie staat en aangluur, maar vader liefde het maar elke keer gekeer dat hy hom nie met ‘n Vaaljapie se fanbelt gewurg het nie.

So kom die dag dat ou Bosduif van Leipoldltville sy Chev Impala daar kom intrek en teensinnig aan’t gesels raak met klein Dirk wat ewe vernaam naderstaan. Bosduif se ogens het vir oom Jan gesoek, maar oom Jan was op die stadium agter die garage besig om water af te slaan langs die oliedromme. Bosduif het maar die Chev laat idle sodat die vername klein Dirk kan luister wat aangaan, want die kar het ‘n mis op haar aaidel gehad. Klein Dirk is nie links nie en vertel sommer so ewe vernaam vir ou Bosduif lat die taaimieng uit is. Met wantroue het Bosduif die knaap staan en aangluur, maar nie kommentaar gelewer nie, want die mannetjie se vermoëns om debat te voer was formindabel en Bosduif was nie lus om in ‘n gestryery betrokke te raak nie.

Dis ook dan dat oom Jan, wat agter die Garage sy ding klaar gedoen het en met ‘n wip in die knieë sy belangrikste tool weer bêre en die boilersuit se zip netjies weer toerits, toe al klaar weet wat fout is met die Chev, want haar hees stem wat sy ore tot agter die garage bereik en het sy vir hom met ‘n lispel vertel dat haar calburettor vuiligheid ingehad het en dat dit is wat haar so laat mis het. Soos hy dan om die hoek kom en ou Bosduif se hand kom skud en verneem hoe dit met die familie gaan, het hy reeds geweet wat om te doen. So het hulle koeitjies en kallers gesels in die kameraderie van ‘n ou vriende wat ‘n lang distansie kom en toe uitendelik by die Impala uitgekom. Oom Jan het altwee sy hande oudergewoonte liefdereik op die die fender gerus en met bewondering na die agt silinder engine staan en staar.

Hy seg toeso uit die hoek van my mond vir Dirk wat staan en tanne tel, lat hy die calburettor moet afhaal en tog moet skoonmaak. Net daar ruk die klein haan vir hom op en seg verontwaardig, “Maar pa, Dis die Taaimieng!” Oom Jan het gevoel hoe hy weer warm onder die kraag raak en seg vir hom met sy afgemete stem: “Eks seg vir jou dis die kaabegheitir!”( Ek weet nie hoe om die mooi manier waarop die mense in hierdie kontrei hulle r brei te skryf nie. Ek weet net dit klink vir my na een van die mooiste dialekte in Afrikaans en ek kon toe ek nog gehoor het, vir ure lank met pure genot na die mense van die Sandveld geluister het. … “Nôsens pa, dis die taaimieg pa kan mos hoogh”! En so staan en beduie die klein bokker en slaan die ysterpen wat die bonnet ophou uit sy nok uit. Dié val, soos die duiwel dit wil hê, netjies terug in die bracket in wat hom vashou. Die bonnet sonder sy stut val terug waar dit hoort en slaan al oom Jan se vingers in die proses vas waar dit op die fender rus en die bonnet latch sluit netjies toe soos net ‘n Chev s’n sal doen.

En daar staan oom Jan met sy vingers vasgevang onner die bonnet, sy seun wat in afgryse staan en staar en die geskokte Bosduif wat na asem snak. Almal versteen in die oomblik soos die soutpilare van Lot se vrou. Oom Dirk staan en kyk met ‘n stupid uitdrukking op sy gesig na sy vingers onder die bonnet. Eers raak hy spierwit van die skok en toe raak hy bloedrooi van pure bedônnerdheid. En hy skrou daar in die verstarde gesig van Chris in: “BGHING DAAR DIE DÔNNERSE TAAIERLEVER!!!! Dis dié woorde wat toe tot ou Bosduif deurdring en hom uit sy skok laat ruk sodat hy inbuk en toe die bonnet latch losmaak voordat die klein Dirk met ‘n taaier lever aan sy paint kan kom neuk.

Of oom Jan Vetkop nog lewe en nog op Leipolldtville, bly weet ek nie. Hy was een van daardie mense wat met ewe gemak karre kon regmaak en met aartappels kon boer. Niks het vir sy hande verkeerd gestaan nie. Solank hulle net nie weer onder ‘n bonnet vasgevang was nie. Wat van Dirk vetkop geraak het weet ek ook nie. Ek weet net dat as hy daardie dag nie iets uit die petalje geleer het nie, dan het ek iets daaruit geleer. En ek het dit onthou, want ek weet my vadertjie Herman het die storie vir my vertel met een van daai verskuilde boodskappe wat hy altyd vir my aangegee het met die stories wat hy is die aande vir my kom vertel het. Luister vir jou pa. Al dink jy nou jys reg

Meimeringe op ‘n Saterdagoggend

Vanoggend is ek heel in vervoering met my verlede en alles wat op een tydstip met my gebeur het. Amper so in vervoering díe dag op Tannie Daniela se stoep toe ek die deur oopmaak en die ou soetkys in die hoek van die stoepkamer sien lê. Die kamer het gestink van die aartappelmoere wat daar gestoor was omdat die kamer voorheen nie in gebruik was nie. Soos enige sandvelder jou kan vertel kry jy nie maklik die reuk van aartappelmoere uit ‘n woonkamer nie.

Ek onthou nog goed dat my vadertjie en oompie Nols buite besig was om die ou huis se mure af te wit. Destyds het hulle in die Kaap sommer ‘n sak gypsum gekoop en dan die wit poeier met water gemeng en daarmee die mure geverf met borsel kwaste. Die twee het rustig op tannie Daniela se kombuis stoele sit en verf en was heel onbewus van my daar in die stoepkamer.

Om die waarheid te sê het ek ook net daar belangstelling verloor en die verwery en nader gestaan om te sien wat in die tas was. Dit was een van daai ou karton soetkyste met die hout repe bo oor die deksel en ook onder deur om die swak struktuur stewiger te hou. Ek het die deksel versigtig oop gemaak en tot my absolute plesier ‘n tas vol fotoboekies ontdek. Met groot ongeloof het ek die boonste een uitgehaal en hier op die omslag was die man wat ek eendag graag wou wees. ‘n Man met ‘n onverstrokke gesig met langerige hare en twee sideburns wat my laat snak het van verwondering en wat my hunkerend nat my eie gladde wangetjies laat voel -voel het of iets darem nie al begin groei het.

Met ontsag het ek die woorde bo op die foto gelees. Rocco de Wet. “Die Grensvegter.” Soos elke laaitie destyds het ek maar te goed geweet waar die grens was en my maaitjies by die skool was maar al te bly om my in te lig oor die gory details van die gevegte wat daar plaasvind. Ons laerskool was beleër met army mans tot die tande toe gewapen en soekligte was aan ons tralies vasgeheg wat in die aande heen en weer geswaai het soos onrustige geeste deur die nag. Want die storie gaan dat hulle ‘n Typhoon doodgeskiet het op die grens en in sy besit ‘n grondplan van ons skool gevind het. Wat die bogger daarmee wou maak kan jy vir jouself raai.

The purpose of terrorism is to terrorise. So was ons van vroeg af geleer en gou-gou het die sensasie van die armymanne by ons skool vervaag en meer aandag was gegee aan die Rocco de Wet foto boekies wat in die tasse versteek was tussen al die teksboeke. My vadertjie het kort arms en diep sakke gehad en die gedagte om vir my fotoboekies te koop het nooit eers by hom opgekom nie. Volgens my vadertjie was dit snert en selfs euwel. Gaan kyk nou maar net die kaalgat vroumense. Self die dominie van Sake van die Hart het soos ‘n skelm gelyk en die Ruiter in Swart se ogens was toegemaak soos ‘n rowenaar sin. Om nie te praat van die Wit Tier nie. Enige bogger kon sien dat die Wit Tier ook die Ruiter in Swart was met ‘n blonde pruik op. Saal 7 en die Dokter Conrad Brand was sommer ook drek. Finish en klaar.

Die dag in die stoepkamer het ek benoud oor my skouer gekyk, maar niemand gesien nie. So het ek dan die hele tas by die stink kamer uitgesleep en op die verste end van die stoep my loop verlustig aan die avonture van Rocco de Wet op die grens. Maar na die eerste paar bladsye het die tergende gevoel by my ontsaan dat iets nie pluis was met die storie nie. Daar was soveel gate. Die masjiengeweer in Rocco de Wet se hande het die boor van oompie Stefaans se haelgeweer gehad en om alles te kroon was die loop met die omhulsel met die gate in ‘n Landrover se steering rod. Self ek wat ‘n laaitie was het dit dadelik gesien. Het my vadertjie dan nie ‘n maand tevore oom Vick se 3 Series reg gemaak en ek was soos altyd aan sy sy en het met bewondering gekyk hoe hy die calburettor afhaal en aandagtig staan en bekyk nie?

Dan was daar die ding van Rocco wat in die helikopter afgeneem het. Ek het aandagtig na die binnekant van daai helikopter gekyk en al wat ek kon sien was die binnekant van ‘n Land Cruiser se cab. Hoeveel keer het ek in oom Kassie se Land Cruiser bakkie sit en mock drive terwyl my pa oom Kassie se blonde karakoel krulletjies in die garage geskeer het. Soos almal weet was Lang Herman die beste barber in die hele Munisipaliteit en baie manne het hier in sy garage agterstevoor op die ou kombuis stoel kom sit en nonsense sit praat terwyl Lang herman hulle hare noukeurig geskeer het. Die ou kombuis stoel wat vandag nog daar staan.

Dis dan toe dat ek uit my mymering daar op Leipoldtville op tannie Voetjie se stoep geruk word deur oom Tienie se ou-ou Toyota bakkietjie met die skerp grill waarvan die brieke soos ‘n dronk ousie gegil het as die oom wou stilhou. Almal weet oom Tienie was baie suinig. Hy het mos hoeka ou vuurhoutjies loop en optel en in ‘n jêmblik in sy winkeltjie loop gooi vir incase hy dit kan gebruik eendag.

Daar leun oom Tienie uit sy bakkietjie uit en sit en kyk spottend na my vadertjie en oom Nols waar hulle sit verf. “Dis mos halwe werk om op jou gaat te sit paint Jaman!” … “Nee wat oom Tienie ons vat dit maar kalm en die mure lyk mos ook beter as jy vir hom stadig paint.”Oom Tienie sit en snork maar net en kyk die petalje so aan en hou voet by stuk lat mens liewer maar moet staan en werk anders kom die werk nie gedaan nie. Dis toe ek weer afkyk en ‘n Rocco de Wet se dapper gesig vaskyk dat ek die sêding onthou wat my vadertjie altyd vir my vertel het as ek lui was en nie wou help nie: “Van sit en staan kom niks gedaan” kom dit kliphard van my kant af ‘n my skril klein laaitie stemmetjie wat my ongewild gemaak het by baie grootmense.

Oom Tienie gee een kyk in my rigting en snork weer , maar die keer van die lag. Met díe glip die clutch onder sy velskoen uit en die ou Toyotatjie gee drie moerse bokspringe vorentoe en begin dan ‘n die pad afdarf teen ‘n goeie spoed met oom Tienie se snorklaggie wat dit guitig volg soos ‘n lammertjie sy ooi. Ek kyk versigtig in my vadertjie se rigting en sien net tande soos hy sit en runnik van die lag soos sy gewoonte was. Sy skouers skud soos een wat ‘n gramstorige bokram by die horings beet het. Oom Nols lag alte lekker terwyl hy met sy tong sy onderste valstanne uit sy mond uit druk soos sy gewoonte was.

Toe kyk ek maar weer af na die man wat my op daardie dag oorreed het dat ek eendag ‘n soldaat gaan wees. Ek was een van die eerste matrieks wat by die deftige army rekrute agter die lang ry tafels loop inteken het toe hulle by ons skool aankom. Waar meeste van die laaities bleek was was ek die ene plesier en het deftig my heel eerste handtekening op die army vorm ingevul. Op my wange het ek ge voel-voel om my sideburns al gekom het, maar ek kon net die puisies van my adolosensie voel.

Oom Tienie het aangery in Muisbos strand se rigting. In sy toekoms terwyl die laaitie met die foto boekie hom met ‘n fronsie sit en agterna staar soos kinders soms doen. Hy is later van jare aan beenmurgkanker oorlede. Lang Herman het nog baie mure geverf voor sy dood. Partykeer het hy gesit en verf en partykeer het hy gestaan. En elke keer was die job gedaan. Oom Nols het laas maand vir sy kinders vertel sy tyd is naby. Hy wil vir Sederberg vir oulaas gaan sien. Tannie Daniela is twee maande terug ootlede in Lambertsbaai in Huis van Liefde.

Ek sit en voel-voel aan die harde baard deurspek met grys op my wange. My army dae is net ‘n vreugdevolle, vae herhinnering. Ek vra myself af: “Is jy gelukkig oubal?” Nie regtig nie. Maar ons almal kan nie wees wat ons gedroom het ons wil wees nie. Jy lewe maar jou lewe en doen alles wat jy kan na die beste van jou vermoë. En as jy weer sien is jy oud met net jou mooi herhinneringe. Soos Rocco de Wet wat met sy rug teen die muur voor die Bottelstoor by Academia Checkers sit en yl.

Nabot se Druiwe


Jy… Ek het jou Donderdag in die hardeware winkel by die rak sien staan. Presies soos ek jou onthou. Ek het asemloos vasgesteek en die rooi steel skroewedraaier op die grond laat val. Jy het skalkies omgekyk en my verdwaasde oë met joune vasgevang. Toe sit jy sommer die blikkie verf terug in die rak en verdwyn tussen die rye. Soos jy soveel jare terug verdwyn het. Maar dit was nie jy nie. Jy kan nie na al die jare nog so jonk lyk as wat ons toe was nie. Ook nie so dwaas soos ons altwee nie. Ek buk versigtig af om die skroewedraaier op te tel en die pyn in my rug herhinder my dat ek ook nie meer die man kan wees wat ek toe was nie. Tog dryf die onbekende drang my mageloos na die vollengte spiëel met die houtraam wat teen die muur staan gemaak is. In die spiëel sien ek die frons op my voorkop. Die neus wat bly groei het, jare lank nadat die ou ligaam bes gegee het en gebly het so lank as wat dit toe was. My hare is kort afgeskeer. My baard staan woes waar ek dit vergeet het. Plooie is oor my hele gesig en die grysheid het meer geword vandat ek laas gekyk het.

Ek stap met verslaendheid na die kassier toe waar ek my inkopies neersit. Jy en jou vadertjie kom verbygestap op pad by die hardeware winkel uit. Jy steek by die deur vas en kyk nog een keer onseker maar indringend na my. Asof jy my probeer plaas. Dan verdwyn jy by die deur uit. Jy klim saam met jou vadertjie in sy motor in en dan ry hy daar weg en los my verlate by die kassier. Soveel dekades later kom trek jy jou sagte, pienk vingertjie teen my ruggraat af. Hoendervleis slaan op my arms uit en ek sukkel met vogtige oë.

Soos gister onthou ek die partytjie buite by Tuks Jool se gronde. Die wind waai koel teen my gesig en die polsende musiek kom oorverdowend uit die rigting van die opelug konsert. Jy staan met jou lyfie en ruk jou heupe heen en weer bo op die onderstebo plastiek kis waarin ons die bier aangedra het. Jy hou ‘n onsigbare mikrofoon voor jou lippe en sing uit jou maag uit terwyl jy diep, diep in my oë kyk. Ek voel hoe ek lus raak vir jou. My drange dryf my ongenaakbaar na jou toe om reg voor jou te kom staan. Soos een beweeg ons nader en dan voel ek jou lippe op myne en hoe jou mondtjie vir my oopgaan .

Jou tandtjies teen myne kners. Jou tongetjie soos ‘n paling verbete in my mond stoei. Die smaak van jou hartstog en die hitte van jou tong. Dan eindig die musiek met ‘n orgasmiese rol van die dromme en so breek ons van mekaar af los en staar verskrik in mekaar se oë. Ons sou seker vir ure so vasgevang gestaan het in die oomblik. Ons sou sweerlik aangegaan het, maar toe klink jou boyfriend, my goeie vriend, se stem op vanwaar hy aan geloop kom saam met my ander vriende . Dan sypel die honger uit jou oë en word vervang met skuld net soos dit in myne weerspiëel.

Twee weke het omgegaan en eksamen tyd was net-net verby. My vriend was toe al weg plaas toe want dit was lammer tyd en sy pa was ‘n ongenaakbare slawedrywer. Ek was besig om diep ingedagte op my bed te sit en om van my klere in my army balsak in te prop vir my moedertjie om te was as ek by die huis kom. Ek was opgewonde om weer by die huis te kon wees, maar iets het bly terg. Iets wou my met alle mag agter hou. Dan kry ek die reuk van jou in my neus. Ek swaai om en vang jou waar jy my stip staan en aanstaar met jou een skouertjie teen my deur se kosyn.

Nie een van ons sê iets nie. My hart bons in my borskas en my longe trek toe. Bloed druis deur my brein en ek voel hoe my hande onbeheersd begin bewe. My bene lam. Jy snak effens na jou asem en maak jou mondtjie oop om iets te sê, maar niks kom uit nie. Wankelrig stap ek onvas in jou rigting. Dan is ons weer een. Jy in my arms en jou lippe op myne.
Soms is die golwe van passie ook golwe van absolute wanhoop. Hoe ons twee later aanmekaar vasklou net nadat jy my briesend weg gestamp het ek my geklap het dat my oor tuit. En hoe ons altwee aan my vriend lê en dink. My hart krimp in my borskas as ek die jaloesie in my binneste soos sooibrand voel opkom. En ek draai my rug na die meisie wat my so verwerp het en tog aan my vasklou asof sy my nooit wil los nie.

Ek lê en staar na die muur soos Agab nadat Nabot sy wingerd aan hom geweier het. Ek voel die absolute woede en haat van die jeugdigdige in my opkom. Ek dink aan die tye toe ons gejag het op sy vadertjie se plaas. Hoe die klein bokkie se ore reg voor ons agter die bos fladder, maar hoe ek hom nie vertel van die bokkie nie. Hoe die bokkie ligvoetig wegdraf en hy omdraai en beskuldigend na my staar terwyl ek ‘n glimlag probeer verdoesel. Ek dink aan die kere wat hy net sy hand op my skouer gesit het as ek down was. Sy grappe wat my laat skater het van die lag. Ek onthou ons mooi vriendskap.

En jy, klein Jezebel, wat nie voor my attensies wou swig nie. Jy wat my so hard geklap het toe en my hand voor by jou denim ingedruk het en die vog van jou skaamte gevoel het. Jy begin om op my rug met jou vingertjie te skryf. Groot letters vat jy op een plek skryf. Hoe jy ‘n strepie trek waar daar ‘n spasie moet wees en hoe jy ‘n punt druk waardie sin eindig. Hoe jy stadigaan die stramheid van jou verwerping uit my rug laat verdwyn.

Soms het jy nie geskryf nie. Soms het jy jou handjie onderdeur my arm gedruk en dan het ek dit vasgehou. Maar nooit het ek omgedraai nie. Want jou klap was hard en het nog soos kole op my wang gebrand. In die vroeë aand ure het ek ingedommel terwyl jou letters woorde gevorm het. Hoe jou woorde sinne geraak het en hoe die sinne berusting in my gemoed gebring het. Saggies het ek in doomland verdwaal terwyl jou warm asem in my nek geblaas het. Jou laaste woorde wat jy aspris in my slaap op my rug geskryf het, het ek nooit verstaan nie.

En hier staan ek voor die till en vroetel met my vinger in my beursie rond op soek na die duiwel-weet-wat, want die prys het ek lank reeds met my debit kaart betaal. Die vrou by die till kyk my met snaakse bang oë aan terwyl jy die laaste woorde weer op my rug kom skryf na soveel dekades. “Veg vir my”

Stadig hink ek na die deur op my seer enkel. Eensaamheid staan op vanwaar hy my met openlike leedvermaak sit en betrag het. Hy volg my met sy vasberadendheid en klim arrogant voor langs my by die Bantam in. Sy vermakerige oë kyk hy my aan en vra: “Waarheen volgende ou maat?” Ek maak my oë vlugtig toe om die vogtigheid uit my oë te vryf, maar tog bly die beeld voor my en ek kry dit nie uit my oë gevryf nie. ‘n Lang eensame twee wielspoor paadtjie deur die rooi sand van van die toekoms wat voor my lê.

Rocco de Wet van Windhoek

Rooco de Wet sal jy tien teen een keer voor die bottelstoor in Academia kry. Rocco is ‘n lang, maer man. Hy het vroeër by die Natal Fruit hoek winkeltjie van die Griek gesit. Waar hy met sy rug teen die muur sit los sy lang, vuil hare ‘n pikswart kol teen die muur waar dit skuur as hy, soos sy gewoonte is, soos ‘n hoenderhaan sit en rondkyk. Dan draai sy kop diekant toe en druk vorentoe. Dan trek sy kop terug en draai daai kant toe en druk weer vorentoe…

Toe ek ‘n jong mannetjie van 18 was, het hy by Natal Fruit gesit of gestaan het, het my vadertjie hom altyd ietsie in die hand gestop nadat hy hom met ‘n knik gegroet het soos hy almal gegroet het. My vadertjie het elke liewe mens in sy lewe met ewe veel respek behandel. Ek self was jonk en het altyd met ‘n neerhalende kyk na die hobo verbygestap en my nie aan hom gesteur nie.

Rocco de Wet, soos hy homself noem het nooit gebedel nie. Hy het jou met sy geel oë vierkantig in die oë gekyk en jou gegroet. Vandat ek hom die eerste keer gesien het, het Rocco de Wet army browns en army bootse gedra met ‘n lap wat hy om sy voorkop geknoop het om sy lang hare uit sy oë te hou. Ek sal graag ‘n foto van die man wil neem, maar nie vandag nie. Ek sal die foto wel later van tyd by die storie kom sit.

Eendag het ek alleen by Natal Fruit aangekom en soos gewoonlik het Rocco de Wet my vriendelik gegroet. Ek seg toe uit die hoek van my mmond: “ Voetsak” Ek stap by die winkel in en ek gaan haal ‘n twee liter melk uit die rak uit en draai om na die broodrak en hier staan Rocco reg agter my en hou my stip dop. Ek vra nogal ewe parmantig of hy lus is vir groot moeilikheid. Hy antwoord my toe rustig en afgemete: “Nee meneer. As jy nie so

groot en jonk was nie, dan het ek jou miskien op jou aanbod geneem, maar al wat ek vir jou wil sê is dat jy jou moet skaam. Ek kan nie glo jy is die seun van dieselfde man wat my elke dag vriendelik terug groet as hy hier instap nie. Ek het jou nooit geplan nie. Ek het jou nooit gevloek nie. En jy kom en jy sê vir my voertsek soos ‘n hond”…”Hoekom?”

Die heel tyd het hy my stip staan en aankyk sonder enige agressie in sy houding. Daardie dag was ek die eerste een wat afgekyk het en op daardie ouderdom kon ek nog bloos al was ek een maand weg van my droom af, om in die Army te gaan registreer op Luipaardsvallei. Ek het die woorde begin formuleer om hom omverskoning te vra, want daardie dag het ek hy regtig geskaam. Maar toe ek opkyk is hy reeds weg. Ek het my shopping klaar gedoen en hom buite sien sit op sy ou plekkie. Ek het my trots in my sak gesteek en vir hom 1 rand uit my beursie gehaal en na hom uitgehou. Hy het dwarsdeur my gekyk en nie eens ‘n beweging gemaak nie. Dikbek het ek omgedraai en in die kar geklim

en weg gery. Na al hierdie jare voel ek nog steeds skuldig oor daardie dag. Ek het nie eers my vadertjie daarvan vertel nie. My verleendheid het dit my nooit toegelaat nie. Deur die jare het ek nog een of twee keer geld aangebied maar nooit het hy geld by my geneem nie.

Ek het die storie eendag op ‘n blog forum begin vertel. Ek het die storie op my selfoon sit en uit tik en terwyl ek dit so moeilik moes uit tik het die besef tot my gekom. Rocco de Wet (of Vuiljors soos my vadertjie hom genoem het) het nie geld van my gevra nie. Al wat hy van my wou hê is dat ek hom ordentlik omverskoning gaan vra.

Ek het hom drie weke terug weer daar in Academia teen die muur sien sit toe ek my moedertjie geduldig op har shopping trip vergesel om te kyk dat niemand haar met kelingeld verneuk nie. Daar sit hy sit soos altyd teen die muur met ‘n half leë bottel Castle bier lang hom op die sement. Bo sy kop ‘n sticker teen die muur geplak: “I don’t mind if you stare” Maar Rocco de Wet is nie meer in hierdie ou wêreld nie. Hy sit en vaar teen die samelewing uit in ‘n taal wat my moedertjie nie kan verstaan nie. In sy oë is die wilde kyk van ‘n Rasputin. Ek weet diep binne in my dat die owerhede hom een van die dae sal gaan haal en hom dan in een van die selle by Malkamp sal gaan toesluit. Tog, toe ek voor hom gaan staan en hom indringend in die oë kyk, toe het hy stil geraak en my nukkerig sit en terug staar. Sal hy ooit verstaan as ek hom omverskoning vra vir iets wat ek verkeerd gedoen het 20 jaar gelede? Sal hy altyd die stem van my gewete wees wat geklee is ‘n stokou pikswart army browns en met army bootse waar sy tone uithang?

Ek is jammer, Rocco. Ek weet jy sal hierdie storie nooit lees nie. Ek weet dat ek jou nou nie meer omverskoning gaan vra nie. Jy sal die stem van my gewete bly en jy sal sorg dat ek nederig bly soos wat my vadertjie was. Jy sal die wag voor my mond wees en jy sal die grensvegter van my sondige natuur wees. God het ‘n doel vir elkeen om aarde. Een van jou duisende doele hier op aarde is om my van tyd tot tyd te help onthou wie se seun ek is, Rocco.

Daarvoor kan ek net vir jou en vir God dankie sê. Geniet die lewe soos jy destyds verkies het om hom te lewe, ou maat. Moenie dat enigeiemand jou ooit verkleineer oor hoe jy jou lewe wil lei nie. Ek is nie beter as jy nie. In God se oë staan ons gelyk

Papagaaie op Langstrand

Op Saterdagmore is ons almal vroeg-vroeg al op en agter op André se Ford Courier en so het ons al op die strand gery. So elke vyfhonderd meter stop ons om die glase te hervul. Agter op die bakkie was een boks vol Cheateu Brandewyn en een krat vol twee liter bottles coke. Van die vroumense wat saam was het girly drank ook saamgevat soos rooiwyn en Amarula, maar ek het nie juis opgelet wat alles daar was nie. Ek onthou net ou Vierperdewa, soos ons André se infamous girlfriend suutjies agter haar rug noem, het Fordkarre gedrink. Dit is nou as jy Cape to Rio (10 Rand Kaaptoe) Cane en Fanta Orange bymekaar meng.

Nou, die dag was almal vrolik. Die see aan jou linker kant en die sand duine aan jou regter kant en die wind in jou hare. Almal het lekker gelag en korswil en soos die brandewyn en fordkar gevloei het, so het die gelaggery dan ook in volume toegeneem. Die kwinkslae het al snaakser geklink en almal kon al makliker lag. Is dit dan werklik sonde om jouself af en toe te geniet sonder enige weerga?

So ry ons aan en toe loop ry Adriaan teen ‘n soutbos op ‘n sand bultjie uit en switch die bakkie se engine af. So klim ons dan toe almal af en staan rond terwyl die glase hervul word. En hier kom stop ‘n ou met ‘n GP nommerplaat en soos alle Namibianers nou maar eenmaal, is groet ons die man met luidrugtige vrolikheid. Die man het ons almal eers baie onseker deurgekyk en toe versigtig gevra of hy kan help. So antwoord ons dan almal soos een man ewe vrolik “Ja!”

Hy maak toe die ou fout wat elke Gautenger vir elke Namibianer wat lyk of hy vassit vra: “Het julle ‘n tou?” En soos een man antwoord ons toe: ”Ons het Chateau!” … dikbek is die ou daar weg in ‘n luidrugtige gelag en ek wonder vandag nog of die man ons grappie gevang het of hy regtig nie weet wat Chateau brandy is nie of as hy net die dag moerig was. Ek sal seker nooit weet nie. Met sy splinternuwe Mitshubisi Pajero ry hy sommer teen die naaste rooi duin uit en toe maak hy die fout wat alle nuwelinge maak. Hy loop sit die ding in donkie gear en daar skop hy homself vas.

Adriaan seg toe ons sal seker maar eers so ‘n bietjie langer moet staan voor ons die man loop help, want hy is mos hier weg met een dikbek terwyl hy eintlik saam met ons moes gelag het. Terwyl ons so staan en praat kom die man aangery oor wie die hele storie nou eintlik gaan. Soos hy verbyry hang hy halflyf by sy Golf met die Walvisbaai nommerplate uit en waai ewe vrolik in ons rigting. Nou sal jy wil weet hoe die man met ‘n Golf op die strand ry. Nou praat ek van daai heel eerste 1100 Golfies wat uitgekom het net nadat hulle die Beetle ophou maak het. Ek kan jou verseker dat jy baie verbaas gaan wees as jy sien waarmee ons alles op die strand ry. Ek self het met my ou brood kombi baie kilometers op die klok gesit op strande. Ek het eendag gesien hoe ry ‘n Baster verby met ‘n Datsun Pulsar met ten minste sewe mense soos sardyne ingeryg in die kar. Dit is iets wat vir die manne van die Republiek nie ‘n bekende gesig is nie, want soos ek verstaan is daar baie strande waar motors glad nie toegelaat word nie.

Die man met die Golfie ry toe aan en sien toe ook die petalje van die Gautenger wat teen die duin vas sit. Hy swenk toe deftig uit en loop parkeer so reg langs die ou en klim uit en buk by sy venster in wat toe al redelik laag sit soos die kar in die sand ingespin is en vra ewe hoflik: “Kan ek help meneer?” Die Gautenger sit en kyk beurtelings na hom en dan na sy Golf en dan weer na die man. Ek weet vandag nog nie wat hom die meeste verbaas het nie. Die Golfie wat langs sy 4×4 parkeer staan teen die duin of die hemp wat die man gedra het nie.

Die man se hemp was so blou soos die hemel van Namibia bo sy blonde kop en op elke kant van die knope was daar een groot rooi papagaai en een groot groen papagaai. Net die boonste knoop van die hemp was vas en die hemp het sorgvry oor sy bruin lyf gewapper. Nou ek weet dat dit vir een man baie moeilik is om ‘n ander man as aantreklik te beskryf, maar ek kan regtig nie anders as om die man ‘n baie treffende spesimen van die genus Homo sapiens te beskrywe nie. Lang man wat jou reg in jou oë kon kyk. Lang blonde hare wat tot agter onder sy blaaie hang en bruingebrand soos wat net ‘n miljoener kon lyk.Tog was die man gee miljoenêr nie.

Teen hierdie tyd het morbiede nuuskierigheid ons almal na die toneel gelok en daar het ons die affêre staan en gade slaan. Die Gautenger het teen die tyd ‘n goeie skoot stage fright agter die blad en kon glad nie ophou bloos nie. Al wat die Gautenger kon uitwurg was: “Het JY dalk ‘n tou?” Maar die man met die Hollywood voorkoms wat uit die gehawende ou Golfie uitgeklim het, het hom net een lang, lui glimlag gegee en hom vertel dat hy nie ‘n tou gehad nie. Hy het net vir die Gautenger gevra om uit te klim. Daarna het hy agter die stang ingeklim. Toe die Gautenger dan teenstribbel toe vertel Hollywoord vir hom: “Daar sit my vroutjie in my Golf. Dis een ding op hierdie aarde wat ek nooit agter sal laat nie.”

Onwillekeurig het almal se oë dan sy vinger gevolg en die vroutjie in die golf betrag. Die vroutjie van hom was ‘n fris meisiekind wat die skaal so by 180kg laat kreun het as ek reg geskat het, maar sy het die mooiste oë gehad, so ek kon verstaan hoekom hy haar bo ‘n spilinternuwe Mistshubisi kon verkies. Hy het ewe behendig die kar agteruit teen die duin af reverse en hom daar onder op ‘n kol stewige sand gaan parkeer en toe die verligte Gautenger ‘n ferm handdruk gegee en met ‘n glimlag vol spierwit tande het hy in sy Golfie geklim en sonder enige moeite daar weggery.

Die aand het ons dan varktjops en boerewors op die kole gehad op André se grasperk voor sy huis gebraai. En soos ons sit en gesels, kom die man en sy vroutjie daar hand-aan-hand verbygestap. My eerste instink was om die man nader te roep en hom ‘n dop in te gooi en van nader te leer ken, maar André wou niks weet nie. Soos op alle dorpe en stede is daar onsigbare grense tussen verskillende groepe mense ongeag van velkleur en geloof. Adriaan was ‘n ship builder en het behoort tot die elite groep van die dorp. Hollywood was ‘n visterman op een van die portugese skuite en dus was daar nie sprake van vriendskap tussen dié twee nie.

Omdat André ons gasheer was en my suster my met deurdringende ogens staan en aankyk het, het ek toe maar nie teengestribbel nie. Ek het nie vir André uitgewys dat meeste van die dissipels ook maar eers vistermanne was nie. Ek het maar met groot telleurstelling staan en kyk hoe die tweetjies duidelik verlief op mekaar reg in die son ingeloop het wat oor die koue Benguela gesak het nie. Die koel aandwindtjie het soos ‘n wulpse meisie verleidelik in my hare gespeel, my omhels en hees in my oor gefluiter: “ Another life, another time”